Preek ons Vandag die Goeie Nuus?

Sdílet
Vložit
  • čas přidán 7. 04. 2021
  • "...kyk, ek bring julle ‘n goeie tyding van groot blydskap..." Lukas 2:10
    Die meeste dissipels dink gewoonlik dat hulle nie nodig het om meer oor die evangelie (die goeie nuus) te hoor nie, want dit verstaan hulle mos. Hulle behoefte is eerder lering oor hoe om te leef in 'n gevalle wêreld, beter gesinslewe, beter huwelik, kinderopvoeding, beter beroepslewe, beter gemeentelewe, lering oor leierskap, algemene kennis van die Bybel, die eindtye, ensovoorts.
    Ek lê vandag aan jou voor dat die Nuwe Testament nooit, maar nooit, die kennis van die goeie nuus as iets vanselfsprekend aanvaar nie. Die goeie nuus is ook nie net die boodskap wat slegs ongelowiges nodig het om te hoor nie, dit is die primêre daaglikse behoefte van alle dissipels van Jesus. Ons is opgeneem in die huis van die Vader, maar ons weeskindharte het genade nodig! En nie net 'n bietjie nie, sommer baie. Ook nie net af en toe nie, die heeltyd.
    "En nou, broeders, dra ek julle op aan God en aan die woord van sy genade, wat magtig is om julle op te bou en julle ‘n erfdeel te gee onder al die geheiligdes." Handelinge 20:32
    "Moenie rondgeslinger word deur allerhande en vreemde leringe nie; want dit is goed dat die hart versterk word deur genade, nie deur voedsel nie, waarvan die wat daarin gewandel het, geen voordeel gehad het nie." Hebreërs 13:9
    Maar wat presies is die goeie nuus? Die goeie nuus is nie hoe verlore ek is nie. Die goeie nuus is nie dat ek my moet bekeer nie. Die goeie nuus is nie dat ek moet glo nie. Die goeie nuus is nie eers instruksies oor hoe ek 'n heilige lewe moet leef nie. Al hierdie dinge is relevant, maar slegs in verhouding tot die goeie nuus en op die regte tyd en plek.
    Die goeie nuus is verder nie dat ek altyd gesond gaan wees en altyd finansiële voorspoed gaan beleef en dat daar nooit weer probleme gaan wees in my lewe nie. Die goeie nuus is ook nie dat ek net positief moet bly en altyd positiewe dinge moet spreek nie.
    Die goeie nuus is gesetel in wie Jesus is en wat Hý suksesvol gedoen het. Die goeie nuus is die volledige identifikasie (almal ingesluit) van elke mens met die kruis en opstanding van Jesus Christus. Die kruis was 'n sukses! Die goeie nuus het te doen met iets wat klaar gedoen is. Dit is afgehandel; nie in 'n proses nie, volmaak en afgerond. Daarom was daar 'n opstanding!
    Die goeie nuus is dit wat nog altyd in die hart van die Vader geleef het oor mense. Dit gaan oor die inisiatief wat Hý geneem het om Sy Seun te stuur vir ons verlossing en bevryding en die uitstorting van die Heilige Gees om hierdie goeie nuus te kom verseël in die harte van mense. Die goeie nuus is nie in die eerste plek ons reaksie nie, maar die Vader se aksie in Sy Seun.
    Preek ons die goeie nuus? Watter persentasie van die inhoud van boodskappe wat ons die heeltyd hoor vandag is goeie nuus? Raak ons opgewonde oor die inisiatief van die Vader en die sukses van die kruis of is ons so mensgerig dat ons baie meer klem lê op die mens se reaksie as die Vader se evangelie-aksie? Antwoord hierdie vraag vir jouself en maak dit baie prakties: "Is my hart daagliks blootgestel aan die goeie nuus en is dit my primêre geestelike dieët?"
    Soms gaan soek ons die probleem op so baie ander plekke terwyl ons nog nooit werklik lank genoeg stilgestaan het by die goeie nuus sodat dit 'n lewenstransformerende impak op ons harte kan hê nie!
    "...Hierdie boodskap is soos 'n lamp wat in 'n donker plek skyn. Julle sal goed doen as julle in sy lig bly totdat die dag aanbreek en die môrester opkom in julle harte." 2 Petrus 1:19

Komentáře •